19 Oktober 2018

Woensdagaand was De Eike se jaarlikse wynveiling, en dit was soos altyd ‘n geleentheid om te onthou. Ds Francois het die aand begin deur ons te herinner aan ons gemeente se tema in hierdie dankbaarheidsmaand, naamlik “Tel jou seëninge”, en dit was regtig die gevoel wat ‘n mens dwarsdeur al die verrigtinge gekry het. Ons was ‘n klomp dankbare mense bymekaar, wat almal graag die saak van die Here wil dien.

Soos in die verlede was Beyers Truter ‘n bekwame en onderhoudende afslaer, wat die entoesiasme hoog gehou het dwarsdeur die aand, en die groot span wat gesorg het dat alles glad moet verloop, het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt. Ek was self net bewus van hoeveel werk alreeds agter die skerms gedoen is lank voor ons gisteraand op Kaapzicht opgedaag het. Die aand was goed georganiseer, daar was baie fantastiese wyne om op te veil, die kos was wonderlik en die geselskap uitstekend.

Dit nou net die dag na die veiling en die opbrengs staan op die oomblik op R271 500. Hierdie is natuurlik bruto, en daar moet nog uitgawes afgetrek en gedoen word, maar ons weet klaar dat hierdie bedrag groter is as verlede jaar s’n.

Dit voel so ontoereikend om net hiervoor “Dankie” te sê, maar ek wil graag elkeen wat hierby betrokke is, uit ons hart bedank. ‘n Klomp mense het baie hard gewerk. Ek hoor sommige mense het al van die begin van die jaar af voorbrand gemaak by wynprodusente, en dit by herhaling opgevolg. Die kerkkantoor se personeel en Tim is toegegooi onder die werk, en ds Francois se span het hulle kant almal dubbeld en dwars gebring. ‘n spesiale woordjie van dank aan ds Francois self: hy het vroeër die dag gehoor dat sy ma oorlede is, en het net aangedring om voort te gaan en van die aand ‘n reuse-sukses te maak. Francois, baie dankie vir alles!

Baie dankie ook vir Nico, wat met sy kamera daar rondgeloop het en foto’s geneem het. Ons sien uit daarna om by ‘n volgende E-Nuus dit aan te heg. En as jy iets wil skryf oor jou ervaring van die aand, laat gerus van jou hoor!