18 Januarie 2018

Dis nou al geruime tyd dat mense hardop wonder of daar nie ‘n manier is waarop ons die liturgiese ruimte (dis nou daardie oop spasie voor die kansel) kan vergroot nie. Elke keer wat ons Nagmaal bedien, of die een of ander optrede daar voor het, besef ons maar net weer dat dit eintlik baie beknop daar is. Om banke uit te haal, is definitief nie ‘n goeie plan nie, want so het ons op die ou end net al minder sitplek, en skuif ons die gemeente al verder van die leraar af. Dis vir seker nie lekker om te preek met so ‘n stuk “niemandsland” oop voor jou nie…

Skade aan die mat daar voor met kerse wat vreeslik gemors het, het vir ons die geleentheid gegee waarvoor ons gewag het, en na baie oorweging het die Eiendomskommissie onder leiding van André Marais ‘n baie goeie oplossing vir die situasie uitgedink. Iemand wat nie weet dat daar dinge verander het nie, sal dit nie sommer raaksien nie – dit lyk asof dit maar nog altyd so was. Al wat jou dalk regtig kan opval, is dat daar besluit is om die “boekestaander” voor die voorste ry eers nie terug te sit nie (ons bring mos deesdae baie minder boeke saam kerk toe!). Dit laat alles selfs nog meer oop en groter lyk. Maar daarby is daar nou regtig heelwat meer plek, en kon ons boonop ‘n plan maak met die onooglike drade van die klankstelsel, wat van nou af in pype onder die vloer gaan hardloop.

‘n Klomp mense het baie hard gewerk om te sorg dat die werk klaar kom, maar dat die kerk nog altyd Sondae met die minimum ontwrigting gebruik kon word. Baie baie dankie aan elkeen van hulle, aan Johan en Tim wat so hard daar gewerk het, aan Joseph, en aan Mariana wat die reëlings in plek moes kry. Ek dink dit was ‘n reuse sukses! Foto’s van die werk is hier te sien.