25 Februarie 2022
Wat is dit?
Geloof: Om die Here te vertrou, Hy sal dit voorsien wat Hy op my hart gelê het om te gee.
Belofte: Ek belowe hiermee om die geld te gee soos wat die Here dit voorsien.
Offer: Ek onderneem om ‘n bydrae te maak – selfs al vra dit opofferings van my.
Lidmate kry JAARLIKS kans om WEER ‘n onderneming met die Here te maak.
MOTIVERING
Kuilsrivier-De Eike gebruik die Geloofbelofte-offers-stelsel om:
- Lidmate die vreugde te laat ervaar dat jy God kan vertrou om te doen wat Hy jou op die hart lê.
- Lidmate persoonlik betrokke by getuienis-projekte te maak.
- Bykomende bronne vir getuieniswerk te ontsluit.
Waarvoor word die geld gebruik?
Na aanleiding van Hand. 1:8 deel ons die gemeente se getuienisprojekte as volg in:
JERUSALEM
Huis de Kuilen
Badisa-Huis de Kuilen is vanjaar 47 jaar jonk. Ons versorg met deernis mense van ouers as 60 jaar, en verskaf gesonde etes, en ‘n aktiwiteitsprogram wat inwoners daagliks besig en aktief hou. Sitkamers, leesareas en tuinruimtes moedig inwoners aan om sosiaal te verkeer. Verder beskik ons oor professionele verpleegsters en passievolle versorgers.
Ons kan dit egter nie volhoubaar en bekostigbaar doen, sonder die ondersteuning van ons gemeenskap nie! Daarom sê ons ook graag dankie vir harte wat oop staan en hande wat altyd reg is om te help!
Kos-vir-Skole
Kos-vir-Skole voorsien sedert 1999 daagliks kospakkies aan behoeftige skoolkinders gedurende die skooljaar. Kinders kry pap, broodjies, vars vrugte, sap en lekkergoed. Kos-vir-Skole lewer ’n diens aan skole in die hele Wes-Kaap – ook in Kuilsrivier.
Webwerf: www.kos-vir-skole.com
Aksie Samaritaan
Hierdie geregistreerde nie-winsgewende organisasie werk onder haweloses in Kuilsrivier.
Die sopkombuis: Hier word omtrent 120 haweloses daagliks kos gegee, saam met ’n kort boodskap en gebed. So word ligaam en gees gevoed!
Die “Container”-kerk: Elke week word eredienste en sondagskool op ons perseel aangebied, wat omtrent 60 mense bereik. Hulle ontvang ook ’n gekookte ete.
Uitreike: Minstens maandeliks word uitgereik na haweloses met sop en gesprekke.
Sewe kerke in ons gemeenskap is aktief betrokke by Aksie Samaritaan. Ons is totaal afhanklik van hulle skenkings, maar hou self ook weekliks pannekoekverkope by Moedergemeente. Ons droom van ’n nagskuiling op ons perseel by die stasie.
Kuilsrivier SAPD-speurafdeling
Ons bedieningspan het elke Woensdag die speurafdeling van Kuilsrivier Polisie besoek, om hulle werksaamhede met Skriflesing,’n boodskap en gebed te open. Ten spye van hul waardering het Covid dit twee jaar gelede tot stilstand gebring. Ongelukkig laat die lokaal waarin ons byeengekom het, nie sosiale afstand toe nie en kon ons nog nie weer daarmee voortgaan nie.
JUDEA
BADISA
BADISA Kuilsrivier is ‘n nie-winsgewende organisasie van die NGK en die VGK. BADISA help mense van alle rasse, geslagte, ouderdomme en gelowe met versorging, maatskaplike ontwikkeling en berading. BADISA bied ook bewusmakingsprojekte en ingryping aan t.o.v. maatskaplike probleme soos dwelmafhanklikheid, VIGS, armoede, kinderverwaarlosing, kindermishandeling, seksuele molestering, gestremdheid en gesinsgeweld. Maatskaplike werkers en gemeenskapsontwikkelaars se taak raak al groter terwyl hul finansiële bronne al verder krimp.
Green Park
Green Park is ‘n informele nedersetting langs die R300. Daar woon omtrent 3000 mense. Elsabé Marais bedryf daar saam met vier onderwyseresse Hobe Educare Centre vir 35 kinders wat uit baie slegte omstandighede kom. In die afgelope jaar kon twee van die vraghouers wat as klaskamers dien, met Wendyhuise vervang word. Hulle droom is om ook die res te vervang, skadu te skep vir die kweek van groente, en ‘n veilige klimraam aan te koop. Elsabé getuig van allesoorheersende dankbaarheid teen De Eike vir hulle hulp, en teenoor die Here, wat steeds sorg en die werk laat voortgaan.
Huis Sonop
Huis Sonop is geleë op die gronde van Stikland Hospitaal. Hulle val onder CMHP (Community Mental Health and Psychiatry), ‘n organisasie sonder winsbejag. Die inwoners se ongeskiktheidstoelae betaal rekeninge vir water, elektrisiteit, voedsel, medies en vervoer na klinieke of hospitale. Omtrent 60 inwoners kry 3 maaltye per dag, maar daar is nie genoeg geld vir vrugte, vrugtesap of bederfies nie.
Tans is Sarien Smuts, Alida Cornelissen, Marita Koen, Helené Steenkamp, Elsabé Marias en Anne Williams daar betrokke, maar kon a.g.v. Covid hulle nie weekliks besoek nie. Op Valentysdag is hulle wel bederf met geskenkpakkies.
Kalkfontein
Ons buurgemeente VGK Sarepta het in Kalkfontein ‘n sentrum opgerig waar daardie deel van hul gemeente met verskeie aksies ondersteun word. De Eike het by hierdie lofwaardig aksie betrokke geraak deur te help met o.a. stoele vir die saal. Ons help ook steeds maandeliks met lopende uitgawes. By die sentrum word konsentreer op programme vir kinders, saam met Badisa, sopkombuise, inligtingsessies en werkswinkels vir die breër gemeenskap.
SAMARIA
VGK Koelenhof
Ds. Desmond Meyer is leraar van dié gemeente van 1 500 lidmate. Die gemeente lê uitgestrek oor meer as 80 plase in Koelenhof en Bottelary en grens aan De Eike. Hulle kry baie swaar in hierdie tyd van Covid. Die lidmate is hoofsaaklik plaaswerkers. Vervoer, finansies en ’n tekort aan ander hulpmiddele is groot uitdagings, en tog is daar ’n groot groep toegewyde lidmate. Die lidmate word in die gemeente geleer dat hulle self ook ’n roeping het om die Here te dien buite die gemeentegrense. Koelenhof het ’n ontwikkelingstrust wat hulle daarmee bystaan. Hulle lê ook baie klem op hulle jeugbediening. De Eike gee jaarliks met Kersfees geskenke vir die kinders van Koelenhof.
UITHOEKE
Mosambiek
Nampula-gemeente
De Eike het gedurende 2015 Candeni aangeneem as tweelinggemeente. Candeni is ’n klein gemeentetjie in die Milange omgewing. Tans het die gemeente nie ’n predikant nie, maar ons ondersteun die vorige predikant, ds Lorenço, wat nou werk onder die Moslems in Nampula. Die ontstaan van hierdie stadsgemeente het ‘n mooi storie wat in die nuusbrief gedeel sal word.
Handevat-projek
Ds. Danie Murray het die Handevat-projek op die been gebring – God se hart vir Afrika. Hierdie projek ondersteun sendelinge, predikante en geestelike werkers in die kerk in Noord-Oos Mosambiek en skakel ook met die ondersteuningsgemeentes in Suid-Afrika. Danie besoek Mosambiek 3-4 keer per jaar. Dan besoek hy gemeentes, doen toerusting en aanmoediging en bou verdere verhoudings. Handevat maak Mosambiekers en Suid-Afrikaners bewus van hulle roeping vir Afrika en rus mense toe om mekaar se kultuur te verstaan.
Indië
Rahul en Lorette werk al ‘n geruime tyd in Varanasi, Indië en fokus op kinders in die agterbuurte van die stad. Covid-19 het hulle swaar getref – hulle het onder andere die perseel van die sorgsentrum verloor, en soek ‘n nuwe plek. Intussen verkondig hulle wel die Woord en werk voort. Hulle wassery (Turning Point) gaan ook steeds voort en skep verskeie werksgeleenthede en dien so die gemeenskap. Rahul en Lorette lewe in afhanklikheid van die Here, en vra ook ons voorbidding.
FEBA Radio
FEBA (Far East Broadcasting Association) Radio SA reik per radio uit na onbereikte mense van die wêreld om hulle van God se liefde te vertel. Hulle doen dit met radio-uitsendings, slimfoon-apps, aanlyn-uitsendings en luidsprekerkassies met geheuekaarte, asook sosiale media.
Ongeveer helfde van die bediening bestaan uit opvoedkundige programme, oor dinge soos finansies, gesondheid, gesinslewe en verhoudings.
Hulle saai uit na ongeveer 50 lande in 141 tale, vanaf 149 stasies – vir 1500 uur per dag! Net in China alleen is al 40 miljoen van Feba se materiaal en programme afgelaai.
Dat hierdie bediening uiters effektief is, getuig die terugvoering van ongeveer 9 miljoen direkte luisteraars wat hulle jaarliks ontvang. Jy kan gerus by www.febaradio.co.za meer gaan lees oor hierdie bediening, asook die aangrypende getuienisse van hul luisteraars.
Bibles for Believers
Bibles for Believers se visie is om teen 2030 ‘n miljoen nuwe kerke wêreldwyd te plant, een miljoen pastore en geestelike leiers op te lei, en 100 miljoen mense te bereik deur die Bybel in hul eie taal in hulle hande te plaas. Lees gerus op www.harvestersministries.com hoe hulle te werk gaan om hierdie doelwitte te bereik.
PRAKTYK
Ons nooi jou om ‘n geloofbelofte-offer vir die komende jaar te maak.
- Deelname is absoluut vrywillig.
- ‘n Geloofbelofte-offer is bykomend tot jou dankoffer.
- Ons stel van vandag af die beloftevorms beskikbaar. Bydraers ontvang spesiale koeverte. Jy plaas hierdie koeverte tydens eredienste in die kollektebordjie of neem dit na die kerkkantoor.
- Lidmate wat eerder hul bydrae per debietorder of elektronies wil gee, voltooi steeds die beloftevorm en tref dan net die nodige reëlings met die kerkkantoor.
- As jy reeds ‘n bydrae per debietorder gee, gaan dit net voort. Kontak net asb. die kerkkantoor as jy die bedrag wil verander.
- Ter selfder tyd verbind jy jou ook tot voorbidding vir hierdie werk!!
-
Die beloftevorm waarna hier bo verwys word, is hier beskikbaar.
Hoe voorsien die Here ?
- Beter rentmeesterskap: Dalk het die Here reeds voorsien.
- Opofferende bydraes: Om iets van my leefstyl op te offer.
- ‘n Onverwagse geskenk van die Here.
Bankbesonderhede vir elektroniese bydraes
ABSA BANK – takkode 632005
Tjekrekeningnommer – 3010 59 0069
Verwysing – GBO – naam opsioneel