26 Oktober 2017
Toe ek by ‘n vergadering nou die dag vir Elsabé vra wat nuus is by Green Park, het dit nogal ‘n rukkie gevat voordat ek die entoesiasme wat ons gewoond is om by haar te kry, kon begin sien. Sy het sommer dadelik gesê dat hulle maar ‘n betreklik rowwe tyd daar agter die rug het, wat selfs vir haar by tye amper moedeloos wou begin maak. Eers is die kraantjie van die Sinodale fondse wat help betaal het vir die dames wat daar werk om die kindertjies te versorg, toegedraai. Ewe skielik is dit ‘n enorme probleem om die mense betaal te kry.
Daarby het die planne om nuwe behouerings houers (“containers”) te kry in plaas van die oues wat erg lek wanneer dit reën en moeilik is om te onderhou, toe ook nie gerealiseer nie. Een mooi dag het sy egter net besef dat die Here van haar vra om die meeste te maak van dit wat sy wel het, en toe is daar nuwe alluminium-vensters ingesit in die “containers” wat reeds daar was. Nou spog hulle met pragtige waterdigte vernsters!
Die behoeftes bly egter steeds enorm, en dis net die krag van die Heilige Gees wat haar steeds in staat stel om die wonderlike werk te doen. Wat my net laat wonder: is dit regtig nodig dat sy so alleen moet sukkel? Is daar dan regtig niemand in De Eike wat die Here roep om betrokke te raak, of deur fisiese teenwoordigheid of dalk net deur finansiële ondersteuning nie? Is daar dan regtig niemand wat Elsabé se hand kan vat nie? Ons weet immers daar is geen groter belegging in die koninkryk, as om in kindertjies se lewens ‘n verskil te maak nie!
As die Here met jou praat hieroor, skakel asseblief self met Elsabé of anders met die kerkkantoor, of met my. Kyk hoe lyk die waterdigte vensters hier.
Hannes Burger