2 November 2017
Ons gemeente is nou al geruime tyd betrokke by die VGK Koelenhof gemeente en die St Paul’s Church in Kayamandi. Ons ondersteun hulle op verskeie maniere. Maar wag, kom ons herinner jou net eers weer:
- VGK Koelenhof bestaan hoofsaaklik uit plaasarbeiders en hul gesinne. Volgens hul leraar, ds. Desmond Meyer, was daar vroeër jare ongeveer 80 boere wat die gemeente ondersteun het. Dit het met verloop van tyd verminder tot slegs 23. Die gemeente kry baie swaar.
- Mantsai bedien in Kayamandi (buite Stellenbosch) die armstes van die armes in dié gemeenskap.
Die afgelope klompie jare gee ons aan die kinders van die 2 gemeentes Kersgeskenke. Vir baie van hulle is dit dalk die enigste Kersgeskenk wat hulle ontvang!
Ons wil vanjaar weer so maak. Vanaf eerskomende Sondag sal daar in albei portale van die kerk ‘n Kersboom met naamkaartjies wees waarop die geslag en ouderdom van ‘n kind sal verskyn. Neem ‘n kaartjie en koop ‘n geskenkie van nie meer as R100 nie. Bring die geskenk terug na ‘n erediens (plaas in die mandjies by die deure) of gee af by die kerkkantoor. Onthou om die kaartjie op die geskenk te plak sodat ons kan weet vir wie die geskenk bedoel is. Geskenke moet asseblief teen 28 November 2017 terug wees by die kerk. Maak ‘n kind se hart bly!
Kliek hier vir foto’s van verlede jaar se insameling. Mariana en Cathy het dit sorteer en Piet Rootman het die vervoer hanteer.