4 September 2023

Liewe vriende,

Die Kerkraad het Woensdagaand ‘n verdere geleentheid gehad om te besin oor en beplan vir die toekoms van De Eike.  Om vooruit te kan kyk, moet ons ook terugkyk oor waar ons vandaan kom.  Ons kan nie anders as om dit in erkentlikheid en dankbaarheid te doen nie.

Vir meer as 46 jaar het God vir hierdie gemeente gesorg en in al ons behoeftes voorsien, volgens Sy eie tydsberekening.  Enkele voorbeelde hiervan oor slegs die afgelope 10 jaar, sluit in ‘n nuwe parkeerterrein, nuwe klankstelsel, herstelwerk aan ‘n lekkende dak en dan natuurlik ook sonpanele wat ons beurtkrag laat vryspring.  Net so het God telkens mense met wonderlike kennis, talente en gawes geroep en toegerus om ‘n verskil te maak waar dit die nodigste was.

Ek herlees ‘n artikel wat ek geskryf het toe die gemeente sy 43ste verjaarsdag gevier het – minder as 3 weke voor grendeltyd begin het.  (Sien artikel hier.) Ons het miskien nie toe geweet watter uitdagings vir ons wag nie, maar ons kan vandag terugkyk oor die Covid-tyd en ook daarin God se voortdurende versorging en seën raaksien.  Net so kon ons ook vir ander wat swaar gekry het, tot seën wees.  Onthou jy nog hoe ons produkte vir kospakkies ge“Drop and Go” het?

Die grendeltyd het ons gedwing om dit wat ons gewoond was om te doen op nuwe maniere te leer doen.  Ons het veral begin om anders oor tegnologie te dink en dit in te span om meer mense te bereik as voorheen.

Kom ons besin in die week wat kom oor die talle seëninge wat ons so mildelik uit God se hand ontvang – en ook hoe ons dit verder kan dra en vir ander kan seën met die seëninge wat ons ontvang het.